Resepsie Van Romeinse Reg In Die Suid-Afrikaanse Regstelsel : Stare Decisis En Curia Ius Novit
Suid-Afrika het 'n gemengde regstelsel. Die stereotiepe benadering is gebaseer op die teenstelling Engels-Afrikaans, wat gedurende die 20ste eeu die universiteite en gevolglik die paradigmas regeer het. Die doel van hierdie artikel is om die uitwerking van die stare decisis-leerstuk (Engelse reg) en die curia ius novit-reël (Europese siviele reg) op die Suid-Afrikaanse regsontwikkeling vas te stel. Vir hierdie doel is twee hofbeslissings ontleed ten aansien van hul keuse en toepassing van bronne, die eerste gegee gedurende die beginjare van die Kaapse hooggeregshof, en die ander gedurende die tagtigerjare van die 20ste eeu. Albei sake het betrekking op die bankier-kliënt-verhouding en meer spesifiek die toepaslikheid van die exceptio doli in hierdie konteks.