EduCoast study resource Free to study

Kodewisseling In Afrikaans-Nederlandse Kinders Se Spraak

No ratings yet

Daar bestaan oor die algemeen nog min navorsing oor die wyse waarop tweetalige kinders hul eerste tale verwerf. Hierdie proses - waartydens kinders twee tale gelyktydig van geboorte af verwerf - staan bekend as tweetalige eerstetaalverwerwing (TETV). Insgelyks bestaan daar min navorsing oor die verskillende taalverskynsels, soos kodewisseling, wat opgemerk kan word wanneer kinders twee nouverwante tale terselfdertyd verwerf. Kodewisseling is nog nie ondersoek in ʼn studie wat Afrikaans-Nederlandse kinders as respondente betrek nie, en hierdie studie wil dus daardie gaping vul. Ten einde die kodewisseling van hierdie groep te beskryf, is die taaldata van agt voorskoolse kinders tussen die ouderdomme 2;3 en 6;4 wat in Suid-Afrika Afrikaans-Nederlands grootgemaak word, ingesamel en geanaliseer. Die data-insameling is gedoen deur gebruik te maak van die ouerverslagmetode, en die data-insamelingsperiode het in totaal ongeveer twee maande geduur. 123 uitings is in totaal vir die studie geanaliseer. Die navorsing is binne Steffen Höder (2014a) se diasistematiese konstruksiegrammatika (DiaKxG) aangepak, aangesien dit ʼn raamwerk verskaf waarbinne meertalige konstruksies geanaliseer kan word. DiaKxG is op die algemene beginsels van tradisionele konstruksiegrammatikabenaderings (KxG-benaderings) gebaseer, maar is spesifiek geskik om konstruksies wat uit ʼn verskeidenheid taalkontaksituasies voortspruit, te analiseer. Soos deur Höder (2014a:138) uitgewys, en deur Boas en Höder (2018:37) en Colleman (2018:146) beaam is, het taalkontakfenomene in onlangse jare nog net die aandag van ʼn klein aantal konstruksiegrammatici getrek. In werklikheid het dit eintlik ook periferale status in prominente grammatikale benaderings. Omdat taalkontak(fenomene) egter ʼn alomteenwoordige deel van die samelewing is (Boas & Höder, 2018:5), kan dit nie by grammatikale benaderings uitgesluit word nie. Vanuit hierdie perspektief is DiaKxG gekonseptualiseer. Die hoofidee wat deur DiaKxG voorgestel word, is dat ʼn meertalige spreker se grammatika, oftewel konstruktikon, uit twee tipes konstruksies bestaan, te wete idiokonstruksies en diakonstruksies (Höder, 2012, 2014a, 2018). Hierdie konstruksies verwys onderskeidelik na die konstruksies wat eie aan ʼn spesifieke taal is (idiokonstruksies), en die konstruksies wat die gemeenskaplikhede of oorvleueling tussen die verskillende tale vasvang (diakonstruksies). ʼn Diakonstruksie is dus ʼn vorm-betekenis-passing waarin invloede van twee (of meer) tale sigbaar is. ʼn Eerste stap in die vorming van ʼn diakonstruksie behels ʼn kognitiewe proses van intertaalidentifikasie waardeur twee (of meer) korresponderende idiokonstruksies met mekaar geassosieer word. Daarna word die vormlike en/of betekenisooreenkomste van die onderskeie idiokonstruksies geabstraheer tot ʼn skematiese konstruksie deur ʼn proses van veralgemening. Laastens word die diakonstruksie in die meertalige spreker se konstruktikon gevestig.

Level
Postgraduate
Subject
Education
Type
Thesis
Institution
North-West University
Language
English
Year
2021
Pages
186 pages
File size
2.77 MB
Format
PDF
Document viewer

Read online

PDF 186 pages
Save a copy

Download this document

Keep the file on your device and study offline. Your personalised copy includes a cover page showing your name and email address.

Free with a free EduCoast account Upload a resource
Help others

Rate this resource

No ratings yet

Found this helpful? Tap a star — your rating helps thousands of students find the best resources.