Die Rol Van Die Liturgie In Die Fasilitering Van 'N Ontmoeting Tussen God En "Soekers" (Afrikaans)
Hoofstuk een handel oor die worsteling van die NG Kerk om 'n dalende tendens in erediensbywoning die hoof te bied en die beste benadering te vind ten opsigte van vernuwing in die erediens, sodat ook mense wat nie deel van die kerk is nie, belang sal stel om eredienste by te woon. Die erediens is 'n byeenkoms waar mense op uitnodiging van God bymekaar kom, maar hoe moet sodanige byeenkomste ingerig word sodat mense dit werklik as 'n ontmoeting met God sal ervaar? Hoe belangrik is dit om 'n liturgiese orde in sodanige byeenkomste te volg en watter rol speel die reformatoriese liturgie om 'n ontmoeting tussen God en mens te fasiliteer? Wat moet in die proses van liturgiese vernuwing behou of laat vaar word? In hoofstuk twee word duidelikheid verkry of die reformatoriese liturgie inderdaad interensiek kommunikatief van aard is en of die erediensganger, deur middel van die liturgie, God al luisterende in die erediens kan ervaar. Die reformatoriese liturgie word vervolgens vanuit `n hermeneuties-kommunikatiewe handelingsteoretiese perspektief bespreek ten einde sekerheid te verkry dat God ook deur middel van die reformatoriese liturgie in die erediens aan die werk is. Die basis van die praktiese teologie is `n hermeneuties-kommunikatiewe praxis (Van der Ven 1990:47). Dit beteken dat die homiletiek ook vanuit `n hermeneutieskommunikatiewe perspektief verstaan kan word (Vos 1996:11-12). Hermeneutiek is die refleksie op die proses van die koms van God in sy Woord na die mens in sy situasie, waarin drie momente onderskei kan word: die verstaan (begrip), die verstaanbaar maak (verklaar) en die tot verstaan kom (toe-eien). Die hermeneutiese komponent van die praktiese teologie (Van der Ven 1990:54-55) word hier vir die homiletiek diensbaar gemaak. Hermeneutiek handel oor die verstaan van die Woord, die verstaanbaar maak daarvan binne die eie kultuur en die tot verstaan kom van die mens vir wie die heil bedoel is (Vos 1996:12). Dit moet as uitgangspunt dien wanneer besin word oor die aanbieding van die evangelie aan mense van `n nie-kerklike agtergrond sodat hulle in die erediens-gebeure gelei kan word tot `n ontmoeting met God en verlossing deur Jesus Christus. In hoofstuk drie word die herkoms van die huidige reformatoriese liturgie aan die orde gestel ten einde aan te toon hoe sterk die liturgie in die vroeë kerk gefunksioneer het en hoe dit deur die eeue gegroei het tot dit wat ons huidiglik in die reformatoriese tradisie ken. Dit sluit in besinning oor die betekenis van die begrip “liturgie” en die ontwikkeling daarvan in die byeenkomste van die volk van God. Dit sluit die orde waarin die erediens verloop in, maar is baie meer as net dit. Liturgie is die diens aan God wat telkens weer vorm aanneem in `n bepaalde erediens (Barnard 1981:52; Van der Ven 1990:48; Vos 1996c:150-151). In hoofstuk vier word die gespreksmatigheid van die liturgiese gebeure, insluitend die preek, ondersoek. Die taal van die liturgie word ondersoek op die basis van 'n keuse vir die dialogiese kommunikasieteorie. Dit is juis omdat die verskillende liturgiese elemente kommunikatief in die erediens funksioneer, dat elkeen belangrik is, met groot omsigtigheid aangewend moet word en nie sonder goeie rede weggelaat kan word gedurende 'n erediens nie. In hoofstuk vyf word gefokus op wat met die term “soeker sensitiewe eredienste” bedoel word. Hoe het die begrip deur die geskiedenis ontwikkel en hoe word dit in verskillende denominasies verstaan? Die Willow Creek Gemeente in Chicago, VSA, onder leiding van pastoor Bill Hybels, staan algemeen bekend as die baanbreker op die gebied van ‘seekerservices’ (Long 2001:7). In die konteks van die NG Kerk in Suid-Afrika is dit nodig om hiervan kennis te neem, aangesien die bevindings in Kerkspieël 2005 daarop wys dat erediensbywoning in die NG Kerk steeds aan die afneem is en daar toenemend afgewyk word van die tradisionele liturgiese inkleding van die liturgie. Sal `n soortgelyke benadering as dié van Willow Creek, in Suid-Afri