Die Effek Van Die Verlies/Verwerping Van Liefde Op Persoonlike Identiteit In Die Verhaal Van Echo En Narcissus In Ovidius Se Metamorphoses
Hierdie studie bevestig dat die Metamorphoses verskeie temas bevat wat soms nou met mekaar verweef is. Die intratekstuele analise toon duidelik aan dat, alhoewel die genre van die Metamorphoses oorwegend dié van die epos is, die bestudeerde episode van Echo en Narcissus deurentyd baie sterk ooreenkomste openbaar met die liefdeselegie, die genre waardeur Ovidius aanvanklik bekendheid verwerf het. (Croally & Hyde 2011: 299) Soos verwag, toon hierdie analise aan dat liefde een van die grootste temas van hierdie narratief in Metamorphoses 3.339–510 uitmaak. Verwerping, verlies aan liefde en dood maak egter ook ander groot temas in die narratief uit. Die liefdesvuur wat begin deur die aanskouing (videre) van die karakter se liefdesvoorwerp, loop ten slotte, ná ’n proses van verlies en lyding, op die dood uit. Die intertekstuele analise toon dat daar met Barsby (1978: 35) en Luce (1982: 802) saamgestem kan word dat Ovidius uiters simpatiek met sy karakters omgaan. Dit geld wanneer hulle die gevare en geheimenisse van die liefde in die gesig staar, en veral waar sy karakters met die onsekerhede van adolessensie te doen kry. Wat boonop opval, is die feit dat, van al die outeurs wat die Narcissusverhaal beskryf, dit slegs Ovidius is wat simpatie met die seun en sy fisieke en emosionele lyding toon, selfs ná alles wat hy ander aangedoen het. Die ekstratekstuele analise bevestig die gevolgtrekking van die intratekstuele analise wat aandui dat die temas in hierdie narratief, naamlik identiteit, liefde, verlies en dood, baie nou met mekaar in verband staan. Verder toon die ekstratekstuele analise aan dat hierdie konsepte as’t ware die verskillende dele of stadiums van ’n bose en vernietigende proses uitmaak. Een van die sleutelgevolgtrekkings in hierdie twee analises is dat copia in hierdie narratief in die Metamorphoses 3.339–510 staan vir die karakter se ‘self’, en dus vir sy of haar identiteit. Met dít in gedagte, toon die studie dat die voorgestelde hipotese wel bewys is, nl.: Indien daar in die geval van liefde ’n wanbalans tussen die karakter se ‘self’ en die ‘ander’ ontstaan, veroorsaak die verwerping en/of verlies van/aan liefde (of die karakter se liefdesvoorwerp), ’n verlies van die karakter se identiteit. Uit die studie kan dit só verduidelik word: Die wanbalans tussen die karakter se ‘self’ en die ‘ander’veroorsaak dat die karakter sy/haar ‘self’ heeltemal aan die ‘ander’ koppel, met die gevolg dat die karakter se ‘self’ hom aan die ‘ander’ of liefdesvoorwerp (hetsy dit ’n werklike persoon soos Echo, of die illusie van ’n weerkaatsende beeld is) oorgee en dit nie meer besit nie. Indien hierdie oorgawe van die karakter se ‘self’/identiteit onbeantwoord bly of verwerp word, veroorsaak dit ’n onomkeerbare verlies van die karakter se ‘self’ en verloor hy of sy sy of haar identiteit. Hierdie verlies van die ‘self’ of identiteit van die karakter veroorsaak ’n intens melancholiese lewenswyse wat die karakter van alle lewenlus ontneem. Die karakter in hierdie toestand wend gevolglik geen poging aan om hom/haarself te red nie en aanvaar die dood as die enigste oorblywende uitweg. Nadat hierdie besluit van passiewe selfmoord geneem is, verloor die karakter sy/haar liggaam en menslike bestaan. Sleutelterme: Liefde, verwerping, verlies, Ovidius, Metamorphoses, identiteit, self, ander, Echo, Narcissus, mite, verhaal, illusie